As jy aartappels wat jy by ‘n winkel gekoop het wat begin uitloop, het jy seker niks om te verloor deur dit te plant nie. Jy kan dit tog in elkgeval nie meer eet nie. Hou hul dan maar net heel i.p.v. om dit te verdeel vir elke ogie.
Die probleem is dat winkelaartappels gewoonlik met groei-inhibeerders (om die raklewe te verbeter) behandel is en daarom nie sommer uitloop nie. Indien wel is die uitloopsels swak en gee hul nie sommer aartappels nie. Met organiese aartappels behoort dit minder van ‘n probleem te wees, maar die winkelgroep waarna in die navraag verwys word, het eintlik maar min ware organiese produkte ten spyte van die beeld wat hul aan hul kliente probeer voorhou. Dit moet op enige produk aangedui word dat dit organies gesertifiseer is. Daar is nog nie ‘n Suid-Afrikaanse liggaam wat produkte as organies kan sertifiseer nie. Ek vermoed dat organies gesertifiseerde aartappels – selfs by die betrokke winkelgroep – dus onwaarskynlik is aangesien die binnelandse mark te klein is.  Ek sien ook niks op www.potatoes.co.za oor die organiese produskie van aartappels nie.  Ek hoop ek is verkeerd.
Komersieele boere verkry hul moere van spesialis-kwekers en gebruik ook nie die vorige jaar se opbrengs vir moere nie. Dit is dieselfde moere wat mens taamlik billik by meeste landbouwinkels kan aanskaf.
Persoonlik gaan ek kyk hoe dit werk om aartappels as ‘n meerjarige plant te probeer kweek. Ek sal sommige van die aartappels oes en sommige daarvan in die grond los om aan te hou groei / weer uit te loop.
Laastens: onthou dat Afrikanertjies(Marigolds) goeie metgeselle vir aartappels is aangesien dit aalwurm teewerk.