Laat ek begin deur om verskoning te vra vir my afwesigheid van die laaste paar dae. Verlede week was daar so baie om te doen te voorbereiding vir ons eerste ‘Bekendstelling aan Permakultuur’-kursus. Ek kan egter meld dat dit ‘n groot sukses en ‘n wonderlike naweek was. Ons is veral dankbaar dat die weer so mooi saamgespeel het – met tye het dit gelyk of dit reg rondom ons gereen het.

Blaarslaai saailinge - Sondagmiddag gesaai

Moenie verder bekommer dat jy die laaste paar kritieke geleenthede laat verbygaan het nie – die vrugbare periode begin vanmiddag (Woensdag) en loop Vrydag ten einde. Dit beteken dat die volgende paar dae baie goed is vir wortelontwikkeling en blaargroei. Kry dus enige hol-ding beet en saai saadjies. Onthou dat daar drie maniere is om te saai: direk in die bedding (saad soos mielies, boontjies en wortels), direk in papier-koppies met ‘n ryk grondmengsel (saad soos tamaties, eiervrug en rissies), en in saaikissies (saad soos basilliekruid, uie en spinasie).

Die grondmengsel vir die saaikissie kan baie arm wees aangesien al die kos wat ‘n plantjie tot op die drie-blaar-stadium nodig het in die saadjie self is. Ek gebruik graag riviersand en droe, fyngemaalde beesmis. Ek meng dit dan in ‘n 1:1 verhouding. Indien dit moeilik is om beesmis in die hande kry kan jy ook dit ook met ‘vermiculite’ vervang. Dit is ‘n natuurlike produk wat mens by meeste kwekerye of lanbou-winkels kan koop. Die ideale mengsel sal goed dreineer (a.g.v. die sand), maar tog vogtig bly (a.g.v. die beesmis of vermiculite). Die mengsel moet dan ook nie klonte vorm nie, aangesien dit daartoe sal lei dat die saailinge se wortels afbreek wanneer dit op die drie-blaar-stadium in papierkoppies uitgeplant word.

Saaikissie met riviersand en vermiculite

Plaas die saaikissie op ‘n plek waar dit oggendson kry en hou dit klam. Ek gebruik ‘n spuitkannetije om dit sagkens nat te maak.