Soos jy mag weet was dit verlede naweek volmaan wat beteken dat dit die volgende twee weke weer oor alles onder die grond gaan. Aangesien vandag byna oor is gaan ek maar by more begin. Dinsdag en Woensdag is goed vir plant/saai van als wat ondergronds produseer. Ek gaan aartappels plant en wortels en beet saai. Net om julle jaloers te maak het ek ‘n foto bygesit van ‘n paar eksotiese moere wat ek van ‘n geheime bron gekry het.

Ek gaan ook die smeerwortel(comfrey) en sitroengras(lemon grass) verdeel. Dis ook ‘n goed om nou seker te maak dat jy genoeg grondbedekking op jou beddings het voordat die son die grond begin bak.

Verder is daar nie veel anders as algemene tuinonderhoud en miskien die maak van kompos oor om te doen voor Sondag nie. Sondag en Maandag is goeie dae vir die uitplant van plantjies, hetsy van saaikissies na papierkoppies of papierkoppies na die tuin.

Ek belowe niks, maar sal probeer om aan die begin van elke week ‘n ‘blogpost’ soortgelyk aan die een hierbo te doen. Wees asb. vrymoedig en vrae as jy oor iets wonder, of maak sommer net ‘n bydrae. Ek leer elke dag nog baie en dink dit is ‘n groot voorreg om voltyds met hierdie dinge besig te wees. Laat ons leer uit mekaar se ervarings.